Uncategorized

Help my kind se juffrou is te kwaai!

Jy wag in spanning in die motor buite die skool hek. Om die draai sien jy jou spruit aankom. Jy sit regop sit jou vriendelikste glimlag aan en se: “Hallo my skat, hoe was jou dag?” maar daar is net in fluister stemmetjie terug. “Sleg, my juffrou het weer met my geraas…”. dit is die soveelste keer die jaar dat jy die boodskap kry en jy kan sommer sien hoe jou kind by die skool verlep. Is dit ernstig, moet jy optree? Wat staan ʼn ouer te doen?

 Ja, dit is ernstig!

Onderwysers het ʼn baie groot taak op hande, om ʼn klas vol kinders saam te neem op ʼn reis na kennis en vaardighede. Kinders moet gelei word om aan die einde van die jaar die kurrikulum uitkomste behaal, sosiaal te groei en meer selfstandig kan optree. Ons weet uit resente navorsing dat kinders se leervermoë drasties afneem as hulle bedreig voel. Die kanse dat jou kind se akademiese prestasie en algemene ervaring van skool diepliggende skade kan opdoen in ʼn klas waar die meneer of juffrou jou kind se veg, vlug of fries respons aktiveer, is feitlik verseker.

Jou kind se juffrou moet jou opvoedingsvennoot wees wat saam met jou aan jou kind se karakter skaaf en ʼn liefde vir leer kweek. Nie een juffrou of meneer pak hulle loopbaan met die idee om ʼn swak onderwyser te wees nie. Inteendeel voel baie hul geroepe daartoe. Daar is wel uitsonderlike hoë eise wat deesdae aan onderwysers gestel word. Jy kan nog baie doen met ʼn juffrou wat gedagtig na jou luister en saam met jou ʼn oplossing probeer vind al moes jy dalk moeilike terugvoer gee oor jou kind se ervaring van haar onderrig in die klas. As jou kind se onderwyser uitermate verdedigend is of selfs aanvallend teenoor jou en jou kind is, het jy dalk groter probleme.

Waar begin mens die probleem aanspreek?

Sodra jy die probleem dat die juffrou of meneer te kwaai is geïdentifiseer het, kan mens ondersoek begin instel om te verstaan waar daar ʼn intervensie moet wees. Daar is drie aspekte wat mens moet ondersoek om vas te stel waar die oorsprong lê naamlik sake wat verband hou met nou kind self, sake wat die onderwyser raak en omstandighede in die skool en of gemeenskap.

Jou kind

Elke kind het sy eie temperament, sommige kinders is baie sensitief, sommige is maklik prikkelbaar. Sensitiewe kinders is meer geneig om ‘raas’ baie persoonlik op te neem waar prikkelbare kinders negatief teenoor ʼn onderwyser se riglyne sal reageer veral as hulle dink dat die juffrou onregverdig was. Jou kind kan ook moontlik ʼn ongeïdentifiseerde leerprobleem hê wat dit moeilik maak vir jou kind om by die pas van onderrig in die klas te bly. Kinders wat aandag afleibaar is of ander spesiale behoeftes het, bring verdere uitdagings in die klaskamer vir die juffrou om te akkommodeer. Kinders kom ook skool toe met hulle eie pakkie bagasie van ‘te laat gaan slaap, hulle het ontbyt gemis of moes die hele nag lê en luister hoe pa en ma baklei’. Al die gebeure gaan ook inwerk op hoe jou kind in die klas gaan reageer.  Dit is nie realisties om te dink dat een onderwyser met almal se persoonlikhede, leerstyle en spesiale behoeftes ewe goed sal kan werk nie. In die publieke skoolstelsel is ons beste hoop is dat die gemiddelde juffrou die gemiddelde kind deur die jaar sal kry. As jou outjie spesiale aandag benodig of ekstra stimulasie sal jy meer betrokke moet wees om dit te verwesenlik.

Die onderwyser

Net soos ek en jy het jou kind se juffrou ook soms ʼn ‘af dag’ en ons moet bietjie geduld hê met hulle. Solank dit nie elke dag gebeur nie kan mens daarmee leef.  Elke juffrou het ook hul eie dissipline styl in die klas wat beïnvloed word deur hulle ervaring in die klas. Te min ervaring mag dalk die gevolg hê dat die juffrou sukkel om die klas te beheer. Te veel ervaring kan maak dat die onderwyser uitgebrand is en nie meer sensitief is vir die behoeftes van die kinders in die klas nie. Soms gebruik onderwysers veralgemenings en persepsies oor kinders om hul klas te orden wat ook die onderwyser se gedrag dan teenoor jou kind rig. Hierdie veralgemenings kan kinders baie negatief benadeel veral as die kind nie ʼn kans kry om in hul eie reg geken te word nie. Veralgemenings oor “seuns” en “dogters” se tipiese gedrag kan baie skade berokken in ʼn kind wat in die onderwyser se belewenis buite die norme val. Die ideaal is dat die juffrou of meneer ʼn reeks emosies en stemtone gebruik in die klas om leer interessant te maak en nie net kwaai is nie.

Die skool en omgewing

Daar is tans baie druk op skole om kinders op te neem wat tot gevolg het dat die aantal leerlinge per klas soms baie hoog is. Geen juffrou kan effektief ʼn klas van 40 kinders leer sonder om êrens baie streng dissipline toe te pas. Die skool se kultuur het ook ʼn invloed op die algemene benadering teenoor onderwys en dissipline. Ongelukkig is daar vele skole waar kinders nog pak kry. Dit is teen die wet en kan lei tot skorsing van die onderwyser wat hulself aan dit skuldig maak. Daar moet ʼn gesonde balans en gebruik van mag in ʼn skool wees. As die magsbalans tussen die onderwysers en kinders baie groot is en die kultuur van die skool die regte en waardes van kinders ondermyn mag daar dalk meer kweekgrond bied vir streng en ontoepaslike dissipline.

Wat is ʼn hoë risiko dissipline of onderrigstyl?

Die volgende eienskappe en tekens kan daarop dui dat ʼn onderwyser ʼn ongesonde dissipline of onderrig styl het:  

  • Onderwyser is oor die algemeen negatief teenoor kinders
  • Onderwyser sonder aanhoudend ʼn individu of groep uit in ʼn klas vir negatiewe kommentaar of toon diskriminasie teenoor leerlinge
  • Wispelturige uitdeel van straf en oormatige strafmaatreëls
  • Skreeu op kinders – emosionele misbruik in die klaskamer
  • Maak deurlopend gebruik van negatiewe kritiek op skoolwerk
  • Gebruik herhaaldelik negatiewe en afkrakende terme gedurende interaksie met ʼn kind
  • Is kil en koud teenoor leerlinge in die klas – veral sleg vir jonger kinders in die laer Grade
  • Knou kinders fisies af – knyp, klap of skiet kinders met hul vingers
  • Slaan kinders met die hand, paplepel of ander voorwerp

Riglyne hoe en wanneer om op te tree

Soms is daar ʼn samevloeiing van omstandighede wat daartoe lei dat jou kind en ʼn onderwyser nie oor die weg kom nie. Jy as ʼn ouer is die mediator tussen die onderwyser en jou kind. Hiervolgens is ʼn riglyn vir optrede:

Neem jou kind ernstig op: Kinders kan spek skiet maar moet nie net aanvaar dat hulle ʼn storie opmaak nie. Luister na wat jou kind se en vra ʼn paar vrae ter verduideliking. Let veral op oor patrone van inligting oor ʼn paar insidente. Tree onmiddellik op as jou kind noem dat hulle fisies seergemaak is deur ʼn onderwyser.

Kry die feite: Ondersoek die bewerings wat jou kind maak en kry inligting van ʼn paar verskillende bronne soos ander kinders in die klas, die onderwyser self en moontlik eksterne bronne soos ʼn evaluasie vanaf ʼn spelterapeut of opvoedkundige sielkundige.

Wees bereid om jou kind se aandeel aan te hoor: Ons spruite is in ons oë menigmaal onskuldig. Wees bereid om ook die onderwyser of skool se ervaring van jou kind aan te hoor en in oorweging te bring. Dit maak baie maal moeilike gesprekke meer draaglik as albei partye bereid is om ʼn middeweg te vind.

Kommunikeer met die onderwyser en skoolhoof: Praat met die onderwyser oor die saak. Kry inligting van sy of haar kant af oor die insident. Let op na die onderwyser en die skool se houding teenoor jou en jou kind. As die onderwyser aggressief of mingetraak is oor jou gesprek het jy dalk ʼn groter probleem as wat jy gedink het.

Werk ʼn aksie plan uit: Werk ʼn tydsgebonde aksie plan uit saam met die onderwyser en hoof as daar aan veranderings by jou kind en die onderwyser moet wees. Sit dit op skrif en monitor die plan. As daar nie verbetering is binne die sperdatum nie moet die plan of jou koers van aksie in heroorweging gebring word.

Nood maatreëls: Enige fisiese dissipline deur ʼn juffrou of meneer is ontoelaatbaar in ʼn klaskamer. Rapporteer die insident aan die hoof of aan jou plaaslike Departement van Onderwys kantore.

Indien jou kind se emosionele welvaart of akademiese vordering in gedrang is kan jy ook die volgende stappe oorweeg:

  1. Vra dat jou kind op ʼn ander plek in die klas kan sit wat nie soveel onder die onderwyser se oë is nie (Gr R- Gr3)
  2. Vra dat jou kind dalk na ʼn ander klas skuif (Gr R – Gr3)
  3. Vra dat vir ʼn ronde-tavel bespreking oor jou kind se vordering met ʼn Departementele verteenwoordiger op Steeksvlak
  4. Verander van skool met die hulp van die Onderwys Departement
  5. Verander van soort skool indien jou kind nie vorder binne die gewone akademiese program nie

Jou kind se skool omgewing is net so belangrik soos jou werksomgewing -dit moet werk! Jy is jou kind se beste kans op sukses. Moet nie te lank wag totdat jy ʼn probleem by die skool op ʼn positiewe manier uitsorteer nie.