Uncategorized

ʼn Pa se oorlewings knapsak vir die reis deur jou seun se tienerjare

Back Pack smallDie oomblik het aangebreek nog voordat ek reg was daarvoor. My tiener seun stap voor my en skielik sien ek hoe lank hy geword het, hoe daar ʼn paar verdwaalde donker haartjies op sy bo-lip oornag verskyn het en dat hy sy tree rek om tot by sy pa te loop. Sy oë volg sy pa se elke beweging, diep in gesprek. My seuntjie is weg en ʼn nuwe wese het sy plek kom inneem. Ek was eers die een wat die pad vir hom aangewys het maar ʼn ma se rol skuif bietjie agtertoe met die aankoms van tiener wees.

Ek wonder wat gaan nodig wees om my seun oor die drempel van grootmens-wees te dra en die antwoord skiet in my gedagtes op soos blits. ʼn Pa met ʼn goedgepakte knapsak wat saam met sy seun op ʼn paadjie deur die bos stap. Soos die bekende Bear Grylls nooit sonder sy rugsak en toebehore is om sy oorlewings avonture aan te pak nie, kan ʼn pa ook nie die pad deur sy seun se tiener jare sonder bietjie proviand en spesiale toebehore aan vat nie. So wat sal in so sak moet wees? ʼn Mes, ʼn tou, ʼn kompas, ʼn spieël, ʼn vuurhoutjie, ʼn bietjie suiker, ʼn bietjie sout, ʼn bietjie brood en ʼn bietjie water, netjies ingepak en maklik bereikbaar.

ʼn Mes is handig vir als, van appels skil tot takke kerf om ʼn spies te maak. Tiener wees is deesdae meer kompleks as ooit tevore. ʼn Pa moet soms vinnig optree om sy seun te beskerm, met ʼn grootmens lyf en kinderkop kan daar baie dinge skeef loop. Miskien is die belangrike werk vir ʼn mes dat ʼn pa nog steeds voor moet loop om die pad vir jou kind oop te kap. ʼn Pa is veral die een wat wys hoe mens teenoor jou gesin optree, wat dit is om eerbaar te wees, hoe om ʼn werk te hou, elke dag op te staan en voor te loop.

ʼn Tou, nie te lank nie en nie te kort nie, is nodig om jou seun aan jou vas te bind as julle besig is om oor ʼn berg te klim. Om die touleier te wees beteken om tyd te spandeer met jou kind. Julle kan mekaar verloor in die geharwar van die lewe. Jy het ʼn sperdatum om te bereik hy het ekstra oefentye vir atletiek of ekstra wiskunde klasse. Tyd in mekaar se geselskap kan mekaar help om deur die moeilike tye te kom wanneer hy geval het, hy met dwelms gevang is, sy meisie swanger is of jy en sy ma skei. ʼn Tou is daar om mekaar te verbind, verantwoordeik te hou en om saam met mekaar aan die ander kant uit te kom.

ʼn Kompas wys waar is Noord. Ken jy jou Noord as pa? ʼn Vaste ja en ʼn vaste nee is van die mees onontbeerlike oorlewings apparaat wat jy kan besit. Jou tiener seun gaan opstaan teen dit, dit toets op elke manier wat hy kan. Met dit vra hy “ Pa, wys my die grense van Man wees”. ʼn Kompas is handig as jy verdwaal het mits jy weet hoe om een te gebruik. Jou seun gaan nie net jou ja en nee toets nie maar gaan jou vra oor die dele van jou lewe waar jy self dalk verdwaal het. Gaan jou voorbeeld vir hom die rigting wys van waarheid, eerlikheid, getrouheid of gaan jou paadjie hom in gevaar stel?

ʼn Spieël gee jou die weerkaatsing van jou identiteit, jou karakter. Jou seun het jou as spieël nodig vir twee redes, om te weet hoe hy net soos jy is en hoe hy heeltemal anders is. Tiener wees is die kleedrepetisie vir volwassenheid. Sy stem gaan breek, sy lyf gaan verander hy gaan dal soos jy lyk of soos jy wees. Om tyd saam te spandeer om hom die kans te gee om homself te vind binne jou weerkaatsing is krities vir sy identiteit vorming. Hy gaan nodig hê dat jy sy nuwe krag erken, en nie om in kompetisie daarmee te wees nie. Hy gaan nodig hê dat jy sy vermoë om besluite te maak vir sy lewe te aanvaar en dit nie te oordonder nie.

Vuurhoutjies is vir lig maak en warm maak. Jou seun kan baie bekommerd wees oor sy toekoms al se hy dit nie. Die grootmens wêreld is in die donker deel van die bospaadjie en het jou lig nodig om te sien waar hy moet loop. Praat met hom oor beroepe, wys hom hoe werk ʼn begroting, help hom om ʼn universiteit te kies. ʼn Vuur wys ook heen na passie, motivering en risiko’s neem om by jou doel uit te kom. Ken jy jou seun se vuur? Weet jy waaroor hy passievol is, kan jy dit lei na ʼn vrugtevolle uitkoms vir sy lewe vorentoe?

ʼn Bietjie suiker en ʼn bietjie sout. As tiener gaan jou seun sy eerste groot liefde vind EN sy eerste liefdes teleurstelling. Praat met jou seun oor wat liefde is, hoe dit voel en hoe mens dit wys. Praat oor veilig wees en die tyd en plek vir ʼn fisiese verhouding met ʼn meisie. Sout help om wonde te ontsmet. As sy hart seer gekry het gaan vang saam vis en vertel hom van jou eerste hartstreek. Help hom om te sien dat hy goed genoeg is om lief voor te wees al het dié meisiekind dit nie gesien nie.

ʼn Bietjie brood en ʼn bietjie water. Geld is altyd in aanvraag vir ʼn tiener, vir ʼn nuwe krieket kolf, om saam met sy vriende te gaan fliek, petrol vir die motor. Hier is jou wysheid en finale woord in die spervuur. Op julle pad saam sal jy hom met leer om sy hulpbronne te bestuur. Gee met liefde sakgeld as jy kan, nie te veel geld nie en ook nie te min nie maar spreek ook jou verwagtinge uit wat sy deel is daaraan. Kinders oor 15 jaar mag klein werkies vir betaling doen. Maak wel seker dat die werk veilig en in jou kind se belange gaan wees. Water is lafenis en rus. Soms sal dit nodig wees om die drilsersant van roetine en dissipline te laat een kant staan en jou seun ʼn kans te gee om self te groei en sy eie ritme te vind.

Mens begin ʼn avontuur met die hoop en verwagting dat jy ʼn ryker nuwe mens aan die einde van die reis te wees. So is dit ook die selfde met jou staptog deur jou seun se tiener jare. Hou goeie moed want aan die ander kant wag daar ʼn jong man wat nodig het dat sy Pa die pad vorentoe ook saam met hom sal stap, hierdie keer loop hy net voor.